top of page
Search

Oupa se spookstorie

Ons het gereeld by my ouma en oupa gaan kuier op hulle plot. Alhoewel Heidelberg slegs 'n uur van Pretoria geleë is, het ons gewoonlik te lank en te laat gekuier. Bowendien was ons mae hopeloos te vol vir my ouers om te wil terug ry. Daarom was dit ook nie ongewoon vir ons om by die plot oor te slaap nie. Magies vol, ogies toe. My ouma was die rede vir ons propvol mae en die ekstra sentimeters om die heupe. Sy was ook die rede, tot my ma se ontsteltenis, vir 'n paar hiperaktiewe kinders. 'n regte Nigella Lawson met 'n kook filosofie van: room, botter en suiker, saam geroer met oneindige liefde. Sy was 'n sterk vrou met 'n skerp sin van humor en 'n yster wil. My oupa was 'n hard werkende, doelgerigte en 'n hoogs intelligente man maar daardie vlak van intelligensie het hand in hand gepaard gegaan met 'n tipe vreemdheid. Hy was 'n man met allerhande eienaardige reëls: jy sit nie op sy stoel nie; slegs hy mag die vanielje roomys aan die regterkant van die yskas eet en hy lees net boeke wat se titles met 'n "T" begin. Beleefde mense het hom as "eksentriek" beskryf; minder beleefde mense as "bedonderd, neuroties en bygelowig". Vir my, was hy "Oupa."


Die plot was sprokiesmooi: groen weivelde bespikkel met spierwit skape wat soos wolke oor die heuwels heen gesweef het. Die plot was reg langs die ou treinstasie geleë wat eendag, net skielik, gesluit het. Volgens die tannies se skindernuus was daar net een te veel ongelukke wat by die treinstasie plaas gevind het en daarom het die regering besluit om dit eerder toe te maak om sodoende 'n skandaal te vermy. Volgens die weduwees het hulle altyd dieselfde antwoord gekry toe hulle vra hoe die "ongelukke" gebeur het: fratsongeluk. Met die treinstasie toe, was dit altyd tjoepstil op die plot met slegs 'n blêr-blêr hier of 'n tjirp-tjirp daar wat deur die stilte gebreek het. Dit was die tipe plek waar jou siel weer moed gevind het voordat jy die harde week wat voorlê aan gepak het en waar kinders kon jubel en juig. Van my beste kinderherinneringe is waar ek saam met my neef by the verlate treinstasie kattekwaad aanjaag. Al die kleinkinders was tegnies verbode om ooit naby die trainstasie te speel- dit was heel bo aan my oupa se lang lys van verbode terrein. Wanneer okal ons hom gevra het hoekom ons nie daar mag speel nie was sy antwoord altyd: "Ek weet as daar iets net nie reg by 'n plek is nie, iets soos bose geeste, wanneer die hare aan die agterkant van my nek begin regop staan en wanneer ek naby aan daardie plek stap, is my nekhare penregop. Jy gaan net moeilikheid teëkom by daardie plek." Dit is dan wanneer my ouma haar oë rol vir my oupa se "nonsens praatjies." Sy't geweet dat ek en my neef kort-kort by the ou treinstasie gaan speel het, en het 'n blinde oog gegooi aangesien enige iets wat moontlik gevaarlik sou kon wees al jare terug deur die regering weg geneem was. Of, so het ons gedink.


Ek en my neef het vir ure by the treinstasie gespeel. Ons het paddas gevang, was speel-speel seerowers; het op die platform 'n intense swaardgeveg gehad en musiek gemaak met stokke wat teen die treinspore geslaan is. Ons het geweet dat my ouma ons altyd lank voor skemer terug by die huis wou gehad het, maar eendag was ons so opgevang in ons een-twee-drie-blok-myself speletjie dat ons nooit opgelet het hoe laat dit regtig geword het nie. Toe ons uit eindelik sien dat die sterre een vir een begin gesig wys, het ons geweet dat ons in groot moeilikheid was. Maar soos tipiese elf-jarige seuns, wou ons net nog vyf minute speel, net nog vyf minute, net nog een wegkruipertjie speletjie. Dit was sy beurt om te tel en myne om weg te kruip. Ek het die perfekte wegkruip plek gevind naby aan 'n paar leë kratte wat nog rondgelê het. Ek het gewag en gewag en gewag, maar my neef het nie gekom nie. Ek het eers gedink dat ek net slimmer was as hy, maar toe die realiteit begin insink dat dit regtig nie so slim wegkruip plek was nie, het die kommer aan my getorring. Ek het uit eindelik oor my trots gekom sowel as die vrees om as verloorder verklaar te word en vir my neef begin soek. In die minute wat ek vir hom gesit en wag het, het dit mistig geword. Dit was die tipe mis waar jy nie die palm voor jou gesig sou kon sien nie. Toe het die kommer in vrees verander. Ek het gesoek en gesoek, maar soos die sekondes in minute en minute in baie minute verander het, het ek half gek geword. Ek het naderhand soos 'n afkop hoender rond gehardloop, heeltemal vasgevang in my vrees terwyl ek my stem hees skree vir my neef. Die drukkende mis het al om my gesweef, nader en nader, totdat ek gevoel het asof ek nie kom asem kry nie. Dit was so dig dat dit verdowend was. Maar elk nou en dan, wanneer ek uit eindelik myself kon oortuig om net tot bedaring te kom vir 'n paar sekondes was ek seker dat ek die rat-tat-tat van kettings gehoor het en die vaagweg huil van 'n trein se fluitjie. Toe skielik hoor ek dit, 'n skree wat my bloed laat stol het. 'n Skree wat oorsprong gevind het uit iemand se diepste wese. 'n Skree wat net vertel het van pyn en vrees- so, so, baie vrees. My voete het my uit eindelik terug na my oupa-hulle se huis gedra. 'n Soekparty is uitgestuur treinstasie toe. Na 'n uur en 'n half het hulle my neef se lyk in die huis in gedra. Fratsongeluk. Dit is wat ons dit genoem het: fratsongeluk, omdat ons geen ander woorde gehad het vir wat met my neef gebeur het nie.


Ons het steeds vir my ouma en oupa gaan kuier, eintlik nou meer as ooit. Elke lag het net nou 'n traan by gekry. Ons het wel nooit weer by die plot oorgeslaap nie. Gee nie om hoe vol ons mae was nie, ons het nou die krag gevind om maar eerder terug te ry. Ek het vir jare nagmerries gehad en in 'n bibber myself wakker geskree. En ek het vir jare en jare nie my voete naby aan die treinstasie geplaas nie.



Dit was op 12 Junie 1959 toe my oupa oorlede is. Hartaanval. Ons het plot toe gery vir die laaste keer om die bokse te help pak vir my ouma se groot trek na Pretoria. Dit was 'n lang, emosionele dag: met elke item wat jy in die boks pak stroom 'n vloed vol herinneringe wat ook nou saam met die item in die boks geplaas word. Jy besef dan dat jy elke keer wat jy by die deur ingestap het, na daardie klokkie op die tafel gekyk het. Jy gaan nou nooit weer deur die deur loop nie en jy gaan nooit weer na daardie klokkie op daardie oomblik kyk nie. Jy besef dat die moontlikheid om weer herinninge te maak, al is dit iets so simpel soos na 'n klokkie kyk, is van jou weg gesteel. 'n Mens word mos eers bewus van hoe baie goeters 'n mens het wanneer jy trek. Ons het die werk onderskat en moes tot laat in die aand pak. Dit was te laat en ons oë was te rooi en opgeswel van die huil om terug te ry. Ek het weereens myself bevind in die ou bed waar ek altyd as 'n kind geslaap het. Ek het my bes probeer om te slaap, maar slaap kon ek nie. Ek het rond geworstel uur na uur maar die rou wou my net nie laat weg val in slaap nie. Maar dit was nie net die rou wat my wakker gehou het nie nie, maar ook 'n kinderlike vrees. Elke keer wat ek my oë toe gemaak het, het ek my neef gesien en was ek terug by die treinstasie. Ek het besef dat ek besig was om simpel te wees en het opgestaan om vir myself warm melk te gaan haal. Maar toe ek weer sien is ek terug by die treinstasie.


Ek weet nie wanneer ek besluit het om terug te gaan nie. Ek weet nie hoekom ek besluit het om terug te gaan nie. Dalk wou ek uit eindelik oor my vrees kom en myself oortuig dat daar niks was om voor bang te wees nie. Dalk wou ek net die stoute skoen aantrek. Dit is altyd snaaks om terug te gaan na die plekke waar jy baie tyd spandeer het as 'n kind, skielik is alles soveel kleiner en ouer. Soos ek rond stap en alles bestudeer kon ek voel hoe my hart kalmeer. Daar was regtig niks om voor bang te wees nie. Ek weet nie presies vir hoe lank ek daar rond gedwaal het nie, lank genoeg vir die mis en koue om my te omvou. Toe ek besef hoe koud ek geword het wou ek omdraai, trots op myself omdat ek so 'n onlogiese vrees agter my gesit het, maar ook bang dat die mis ou herinneringe van die aaklige aand sou herroep. Ek was moeg vir bang wees en was vasbeslote om hierdie vrees agter my te laat. Ek het twee tree gegee in die rigting van die huis toe ek dit hoor. Sodra ek dit gehoor het, het ek die hare aan die agterkant van my nek voel kiertsregop staan. Daar was die rat-tat-tat van kettings. Die geluid het definitief vanaf die rigting van die treinspoor gekom. As ek nie so moeg was nie en as ek nie so 'n emosionele dag gehad het nie sou ek seker doodbang gewees het, maar ek was eintlik nou net geirriteerd. Dit was nou tyd vir my om uit te vind wat op dis aarde die geluid veroorsaak het. Hoe nader ek gestap het, hoe harder was die geluid en hoe kleiner het my moed geword. Die mis was weer so dig dat dit my benoud gemaak het, maar ek was seker dat daar 'n dowwe lig was net 'n paar kilometers by die treinspoor af. Ek het gedink dat ek te vasbeslote was om enige iets te vrees, maar ek het hard met die aarde kennis gemaak toe ek die treinfluiting gehoor het. En toe kom dit... die trein, sjuga-sjuga-sjuga, al hoe nader. Gee nie om hoeveel keer ek vir myself gesê het dat dit onmoontlik was nie, dat geen trein meer die spoor gebruik het nie, kon ek net nie myself oortuig nie. Ek kon net nie meer die vrees wat al hoe hoër begin borrel het bedaar nie. Dit was onmoontlik, maar dit was daar. Die trein was ver weg, maar dit het al hoe vinniger begin beweeg. Ek was vas genaal in een plek iewers op die treinspoor. My brein was beneweld en ek kon nie meer beweeg nie. Al wat ek kon doen was luister. Luister na die sjoega, sjoega, sjoega en die rat-tat-tat wat al hoe nader aan my kom. Ek het nie gedink dat my hart so vinnig kon klop nie, sekerlik sou ek enige oomblik 'n hartaanval kry? Ek kon voel hoe die asem van die dood oor my skouer begin kruip. Ek kon selfs die lig waarvan almal praat sien al hoe nader aan my kom. Sê mense jy moet na die lig beweeg of weg van die lig? Ek kon nie meer onthou nie. Gelukkig het die lig na my toe gekom so ek't maar net bly staan. Vyf meter. Drie meter. Een meter weg. Toe sien ek hom. Hy was ouer maar dit was hy. My hele lyf het koud geword en die hare aan die agter kant van my nek was nog kiertsregop. Hy't 'n lantern in die hand gehad en kettings al om sy lyf vasgebind. Hy't sy deursigtige hand op gelig en gesê, "Naand Neef." Ek het net bly staan. "Naand Neef." Hy't net vir my gestaar met sy dooie, wit oë en aanhoudend gegroet soos die spooktrein se geluide al hoe nader aan my gekom het. Ek het uit eindelik weer onthou hoe om my spiere te gebruik. Een tree voor die ander. Eers stadig en toe vinninger het ek geloop en toe gehardloop terug huis toe. Al die pad heen kon ek hom hoor skree, "Naand Neef."


Almal was vroeg op en so het ons vroeg die pad gevat na Pretoria. Ek het vir niemand gesê wat die vorige aand gebeur het nie. Wie sou my glo? Glo jy my? Alhoewel ek nog steeds vreesbevange was toe ek terug dink na daardie aand, kon ek nie help om ook 'n klein bietjie te glimlag nie. My oupa het uit eindelik vir my bewys dat hy nie so eienaardig was soos almal gesê het nie en sy nonsens praatjies was toe nie so nonsens nie. Dit was asof my oupa net nog een maal gesê het, "Ek was reg! Niemand het my geglo nie, maar ek was reg!" En nou kom ek nooit naby aan 'n treinstasie nie. Wanneer iemand my vra hoekom, antwoord ek net altyd, "Want die hare aan die agterkant van my nek sê so." Dit blyk asof ek nou die bedonderd, neuroties en bygelowige ou man geword het. Maar ek hoop dat niemand eendag sal uitvind dat ek eintlik reg is nie want dan sal hulle Naand Neef teë kom.

48 views1 comment

Recent Posts

See All
Post: Blog2_Post
bottom of page